Veiligheid van gasbottels
Die gas wat ons in ons huishoudelike gasbottels gebruik staan bekend as VPG (Vloeibare Petroleum Gas) of te wel LPG (Liquid Petroleum Gas). Ons gebruik dit omdat dit maklik ontvlam en dus ideaal is vir die opwekking van hitte en lig. Die gas wat in jou huishoudelike gasbottel is, is dus eintlik ‘n vloei- stof. Die vloeistof is onder druk in die gasbottel en sodra dit uitgelaat word verander dit in gas. Dis ook hier waar die gevaar van VPG lê; 1 liter vloeibare petroleum sit uit tot 270 liter gas. Verder moet onthou word dat die gas 1.5 keer swaarder as lug is; dus sak die gas grond toe en konsentreer daar.
Veilig dink en doen as jy met gas werk is dus noodsaaklik.
‘n Paar wenke oor gasbottels
1.Maak seker die klep lek nie. A.g.v. die aard van gas soos bo verduidelik, kan ‘n oop vlam by ‘n lekkende bottel, ‘n ontploffing veroorsaak.
2 Gasbottels moet nie geduik wees nie.
3 Dit moet nie geroes wees nie.
4 Die skroefdraad waarin jy braaiers, ligte, ens. draai moet nie geslyt wees nie.
5 Gasbottels vervaardig voor 1969 kan nie meer gevul word nie.
6 Die ring waarop die bottel staan mag nie beskadig of geroes wees nie.
7 Name mag nie daarop ingepons wees nie.
8 Daar mag nie sweismerke op die bottel wees nie.
Sou jy twyfel, bring die bottel na ons vir ‘n inspeksie.